Die Chandra-X-straalsterrewag is ’n ruimteteleskoop wat Nasa op 23 Julie 1999 gelanseer het. Dit is sensitief tot X-straalbronne 100 keer swakker as wat voorheen deur teleskope waargeneem kon word. Aangesien die Aarde se atmosfeer die meeste X-strale absorbeer, kan aardgebaseerde teleskope hulle nie waarneem nie; daarom is ruimtegebaseerde teleskope daarvoor nodig. Chandra is in ’n 64-uur-wentelbaan.
Dit is saam met die Hubble- en die Spitzer-ruimteteleskoop een van die groot sterrewagte. Dit is al beskryf as net so revolusionêr as Galileo se eerste teleskoop.[1]